|
[ Home ] [ About government ]
[ National symbols ]
Nasionale Landswapen
Die rol van ‘n Landswapen
‘n Landswapen, of Staatsembleem, is die hoogste
visuele simbool van die Staat.
Die Landswapen is ook ‘n sentrale deel van die Groot
Seël wat tradisioneel as die hoogste embleem van die Staat geag
word. Onvoorwaardelike magtiging word aan elke dokument gegee wat
die Groot Seël dra, want dit beteken dat die dokument goedgekeur is
deur die President van Suid-Afrika.
Die nuwe Landswapen vervang die een wat Suid-Afrika
sedert 17 September 1910 gebruik het. Die verandering weerspieël die
Regering se doelwit om die demokratiese veranderinge en ‘n nuwe
patriotisme in Suid-Afrika te beklemtoon.
Die ontwerp van die nuwe Landswapen
Die Landswapen bestaan uit ‘n reeks elemente wat
ingedeel is in twee bepaalde sirkels wat bo-op mekaar geplaas is.
Die onderste sirkel verteenwoordig die elemente
van fondasie
Die eerste element is die leuse in ‘n groen
halfsirkel. Twee simmetries geplaasde olifantstande wat opwaarts
wys voltooi die halfsirkel. Binne die sirkel, gevorm deur die
tande, is twee simmetriese koringare wat weer ‘n sentraal
geplaasde goue skild omraam.
Die vorm van die skild verwys na die drom, en
bevat twee mensfigure uit Khoisan rotskuns. Die figure wys na
mekaar in begroeting en eenheid.
Bo die skild is ‘n spies en knopkierie,
gekruis in ‘n enkele eenheid. Hierdie elemente is in harmonie
gerangskik om fokus te gee aan die skild en vervul die onderste
sirkel van fondasie.
[ Top ]
Die sirkel van opkoms
Net bo die sirkel van fondasie is die visuele
middelpunt van die Landswapen, ‘n protea. Die kroonblare vorm ‘n
driehoekige patroon wat herinner aan die kunsvlyt van Afrika.
Die sekretarisvoël is bo die protea geplaas en
die blom vorm die bors van die voël. Die sekretarisvoël staan
met uitgestrekte vlerke in ‘n koninklike en opstaande gebaar.
Die duidelike kopvere van die sekretarisvoël bekroon ‘n sterk en
waaksame kop. Die opkomende son bo die horison is tussen die
vlerke van die sekretarisvoël geplaas en voltooi die sirkel van
opkoms.
Die kombinasie van die boonste en onderste
sirkels kruis om ‘n ongebroke, oneindige baan te vorm en die
harmonie tussen die basiese elemente lei tot ‘n dinamiese,
elegante en unieke ontwerp. Nogtans behou dit duidelik die
stabiliteit, stemmigheid en dringendheid wat ‘n Landswapen
vereis.
[ Top ]
Die simbole gebruik in die nuwe Landswapen
Die sirkel van fondasie
-
Die Leuse
Die leuse, !ke e: /xarra //ke, is geskryf in die
Khoisan taal van die /Xam mense en beteken letterlik diverse
mense verenig. Dit spreek elke individuele poging aan om die
eenheid tussen denke en aksie in te span. Op ‘n kollektiewe
skaal, vra dit die nasie om te verenig in ‘n gesamentlike gevoel
van samehorigheid en nasionale trots - eenheid in verskeidenheid.
-
Die koringare
Dis ‘n embleem van vrugbaarheid en simboliseer
ook die idee van ontkieming, groei en die ontwikkeling van enige
potensiaal. Dit hou verband met die voeding van die mense en dui
dus op die landbou aspekte van die grond.
Olifante simboliseer wysheid, krag, matigheid en
ewigheid.
Dit funksioneer as beide ‘n medium vir die
weerspieëling van identiteit en van geestelike verweer. Dit
bevat ook die primêre simbool van ons nasie.
Die figure is afkomstig van beelde van die
Lintonrots, ‘n wêreldberoemde voorbeeld van Suid-Afrikaanse
rotskuns, en word nou gehuisves en tentoongestel in die
Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad. Die Khoisan, die oudste
bekende inwoners van ons land, getuig van ons gesamentlike
menslikheid en herkoms as Suid Afrikaners. Die figure wys na
mekaar in begroeting en simboliseer eenheid. Dit verteenwoordig
ook die begin van die individu se transformasie na ‘n groter
gevoel van samehorigheid aan die nasie en, by verlenging,
gesamentlike mensdom.
Dit is beide simbole van verdeding en gesag en
verteenwoordig ook die magtige bene van die sekretarisvoël. Die
spies en knopkierie is neergelê en dit simboliseer vrede.
[ Top ]
Die sirkel van opkoms
Die protea is ‘n embleem van die skoonheid van
ons land en die ontblomming van ons potensiaal as ‘n nasie op
soek na die Afrika Renaissance. Die protea simboliseer die
holistiese integrasie van kragte wat groei vanaf die grond en
versorg word van bo. Die mees gewilde kleure van Afrika word aan
die protea toegewys - groen, goud, rooi en swart.
Die sekretarisvoël word voorgestel in vlug, die
natuurlike gevolg van groei en spoed. Dit is die ekwivalent van
die leeu op die grond. Die magtige voël se bene, wat as die
spies en knopkierie voorgestel word, bevoordeel dit in sy jag
vir slange en simboliseer die beskerming van die nasie teen sy
vyande. Dit is ‘n boodskapper van die hemele en weerspieël
grasie op aarde. In hierdie sin, is dit ‘n simbool van goddelike
statigheid. Die uitgestrekte vlerke is ‘n simbool van die opkoms
van ons nasie, en bied ons terselfdertyd beskerming. Dit word
voorgestel in goud wat dit duidelik assosieer met die son en die
hoogste mag.
Dis ‘n embleem van helderheid, prag en die
hoogste beginsel van die aard van energie. Dit simboliseer die
belofte van hergeboorte, die aktiewe vermoëns van oorweging,
kennis, goeie oordeel en wilskrag. Dit is die simbool van die
bron van lewe, van lig en die heelheid van mensdom.
Die volledige struktuur van die Landswapen
kombineer die onderste en boonste sirkels in ‘n simbool van
oneindigheid. Die pad wat die onderste deel van die band, deur
die lyne van die olifantstande, verbind met die boonste horison
vanwaar die son opkom, vorm die kosmiese eier waarbinne die
sekretarisvoël opstaan. In die simboliese sin impliseer dit die
hergeboorte van die gees van ons groot en dapper nasie.
[ Top ]
Die ontwerpsproses
Die voormalige
Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en
Tegnologie het idees vir die nuwe Landswapen van die
publiek gevra. ‘n Opdrag, gebaseer op die idees wat ontvang was,
tesame met insette van die Kabinet, is opgestel. Die
Government
Communication and Information System het daarna Design South Africa
– ‘n sambreelliggaam wat ontwerpsagentskappe landswyd verteenwoordig
– genader om tien van die beste ontwerpers in te lig omtrent die
opdrag. Drie ontwerpers was gekies om hulle konsepte aan die Kabinet
voor te lê. Mnr Iaan Bekker se ontwerp is gekies vir die nuwe
Landswapen. Hy is ‘n direkteur by die FCB Groep en het verskeie
korporatiewe identiteite vir publieke en privaat-sektor organisasies
ontwerp.
[ Top ]
Die nuwe Landswapen versterk Batho Pele
Batho Pele is ‘n Sesotho frase wat ‘Mense Eerste’
beteken. Dit verbind die Staatsdiens om al die mense van Suid-Afrika
te dien. Die Batho Pele waardes en beginsels ondersteun die
Landswapen. Op 1 Oktober 1997, het die Staatsdiens met ‘n Batho
Pele-veldtog begin wat gemik is op die verbetering van dienslewering
aan die publiek. Veranderinge sal aangebring moet word om van
hierdie nuwe benadering ‘n sukses te maak. Staatsdiens stelsels,
prosedures, houdings en gedrag moet kliënte – die publiek – beter
bedien.
Batho Pele is ‘n verbintenis aan waardes en
beginsels:
-
Gereelde konsultasie
-
Bepaling van diensstandaarde
-
Verhoogde toegang tot dienste
-
Hoër vlakke van hoflikheid
-
Voorsiening van meer en beter inligting oor
dienste
-
Verhoogde ontvanklikheid en deursigtigheid
-
Regstelling van foute en probleme
-
Die beste moontlike waarde vir geld.
Batho Pele elimineer duur interne sisteme wat nie
ontwerp was om die behoeftes van die mense eerste te stel nie. Dit
verseker ook dat die Staatsdiens se finansiële beplanning in lyn is
met die publiek se behoeftes en prioriteite.
Die meerderheid van die verbeteringe wat die publiek
wil sien kos niks: dinge soos ‘n glimlag, die respekvolle
behandeling van kliënte, eerlikheid met die weergee van inligting en
verskoning vra as dinge verkeerd loop. Hierdie dinge is nie ‘n
kwessie van ekstra hulpbronne nie – dis ‘n kwessie van die aanneem
van hoër standaarde.
Om dienslewering te verbeter moet alles wat ons doen in lyn gebring
word met ‘klantediens’ beginsels. Die implementasie van Batho Pele is nie ‘n eenmalige taak nie. Dis ‘n aaneenlopende, dinamiese proses
wat vir baie jare sal aangaan en voortdurend momentum sal optel.
Ons moet saam werk, as die Regering en die publiek,
om die beginsels van Batho Pele ‘n werklikheid te maak vir ‘n nasie
aan die werk vir ‘n beter lewe.
Compiled by: Government Communication and
Information System (GCIS), April 2000
[ Top ]
Last modified: 16 March 2009 07:51:33.
|